
“Musiekonderwys bied nie net ’n artistieke uitlaatklep nie…..”
Geagte Musiek Onderwysers en Musiek Ouers
Eerstens, dankie dat u ’n oomblik uit u besige dag neem om hierdie brief te lees.
Die doel daarvan is eenvoudig: om u en u kind te help om die meeste waarde uit die belegging in musieklesse te kry en om die grondslag te lê vir ’n lewenslange liefde vir hul instrument. Talle van u as ouers is reeds jare deel van Die Musiek-Akademie SA se eksamenstelsel maar daar is ook talle wat nuut is.
Daar is ’n groeiende gaping in alle onderwysareas tussen tradisionele, assesseringsgebaseerde maniere van onderrig – met toetse, eksamens en ranglyste – en die behoefte dat ons leerders betrokke moet raak by kreatiewe, verkennende leer wat hulle voorberei vir ’n toekoms wat ons nog nie kan voorstel nie.
Dit is ‘n jammerte om te sien hoeveel kinders wat hul musieklesse te vroeg staak en nooit weer hul instrument aanraak nie, dikwels weens verskeie omstandighede.
As die Registrateur van Die Akademie, kom ek gereeld met volwassenes in aanraking wat as kind musiek geneem het maar in hul opgehou het, en elkeen betreur die feit dat hulle nooit volgehou het nie.
Deur te steun op my eie ervaring en die van die onderwysers saam met wie ek daagliks werk, wil ek seker maak dat dit nie met u kind gebeur nie.
U bestee ’n groot hoeveelheid tyd en geld aan hierdie deel van u kind se opvoeding. Sou dit nie jammer wees as dit vermors word nie?
Die Belangrikheid van Musiekonderwys
Voordat ons verder gaan, wil ek u gelukwens dat u, u kind vir musieklesse ingeskryf het. Dit is een van die beste dinge wat u vir hul groei en ontwikkeling in alle areas van hul lewe kan doen.
Musiekonderwys bied nie net ’n artistieke uitlaatklep nie; navorsing toon dat kinders wat ’n instrument leer, beter vaar in ander leerareas, insluitend geheue, selfdissipline, motivering en selfs geletterdheid.
Om ’n instrument te leer, verander die brein ten goede.
“Musiek verbeter kognitiewe en nie-kognitiewe vaardighede meer as dubbeld soveel soos sport, teater of dans… Kinders wat musieklesse neem het beter kognitiewe vaardighede en skoolpunte en is meer pligsgetrou, oop en ambisieus.”
U het begin met die proses om u kind ’n betekenisvolle betrokkenheid by musiek te gee. Nou wil ek u help om vir u kind die beste kans te gee om ’n lewenslange verhouding met musiek te ontwikkel.
Die Koste van Lesse
Musieklesse is ’n reuseverbintenis – in tyd, energie en geld.
Tyd:
U moet dalk u kind neem en oplaai vir lesse en konserte. Afhangend van die onderwyser, moet u soms by lesse aansluit sodat u, u kind met oefening kan ondersteun. Daar is ook optredes, eisteddfods, konserte en ander byeenkomste om by te woon.
U moet u kind help om oefentyd in hul week te vind. Soms moet u aandring dat hulle oefen. U sal baie energie gebruik om hulle te motiveer, veral omdat musikale vordering baie vertraagde bevrediging behels.
U sal soms gefrustreerd wees wanneer hulle nie oefen nie. U sal moet aanspoor, dalk vroeg opstaan sodat hulle voor skool kan oefen, en soms sal húlle u vroeg wakker maak wanneer hulle op ’n Sondagoggend speel!
Die Akademie het oor die laaste 5 jaar navorsing gedoen aangaande die aspek en ons kan met vrymoedigheid die volgende voorstel aan u maak ten opsigte van oefen tye. Ons noem dit die “Goue 10 Minute”.
Hoe werk dit?
As u kind elke oggend net 10 minute oefen voorskool, 10 minute sodra hulle by die huis kom na skool en 10 minute voor hulle gaan slaap is dit meer as genoeg oefen tyd elke dag.
Ons verstaan die kinders is soms betrokke by talle ander aktiewiteite ook maar hierdie paar minute per dag verrig wonders.
Finansieel:
Baie van u maak groot finansiële opofferings om vir u kind hierdie geleentheid te gee. Eerstens is daar die instrument – wie sou kon dink hoe duur ’n goeie klavier kan wees? En natuurlik die lesgeld self. Musieklesse is selde goedkoop, en hoe meer jy betaal, hoe meer gekwalifiseerd en ervare is die onderwyser gewoonlik.
Maar moenie dat dit u ontmoedig nie – die voordele vir u kind oortref verreweg die koste, mits ons ’n paar dinge in gedagte hou.
Wat is die Doel van die Lesse?
- Het u al gedink oor waarom u u kind in musieklesse inskryf?
- Is dit vir ’n beurs? Vir eksamens? Kompetisies?
- Of omdat u hul liefde vir musiek wil aanmoedig?
- Of dalk omdat u self spyt is dat u nooit volgehou het nie?
Wat ook al die rede, ek moet ’n paar waarhede deel oor hoe musiekonderwys die afgelope 5–10 jaar verander het.
Die Veranderende Aard van Onderwys
Waar musieklesse vroeër hoofsaaklik op bladlees en stukke gefokus het, is dit nie meer die geval nie.
Kwaliteitonderrig gaan vandag minder oor feite en meer oor nuuskierigheid, kreatiwiteit en die vermoë om te verken en self te skep.
Moderne musiekonderwysers leer kinders om:
– populêre musiek te speel,
– akkoordkaarte te lees,
– saam met klankbane te speel,
– te improviseer en komponeer,
– popliedjies te sing,
– in groepe te speel,
– tegnologie te gebruik,
– ander genres te verken,
– en die musiek te leer wat hulle graag wil speel.
Dit is die ervarings wat leerders in staat stel om ’n lewenslange verhouding met musiek te bou.
Die Rol van Eksamens
Baie studente wat musiek bloot as eksamenprogressie sien, voltooi al hul grade – en hou dan vir altyd op.
Hoekom?
Want hulle voel hulle is “klaar geleer”.
Eksamens kan waardevol en motiverend wees, maar slegs wanneer dit reg gebruik word. Laat u kind se onderwyser u behupsaam wees en help besluit wanneer eksamens, kompetisies en feeste gepas is.
Kreatiwiteit
Elke kind wat musiek neem en veral die eksamenstelsel van Die Musiek-Akademie volg se kreatiwiteit word ontwikkel deur die feit dat elke kind leer om sy eie musiek styl te verpersoonlik. Elke persoon is uniek. So hoekom kan eksamens ook nie uniek wees nie.
Gevolgtrekking
Aan die einde van al hierdie tyd, geld, inspanning en emosies – wil u hê u kind moet musiek vir die res van hul lewe kan geniet?
Ek neem aan die antwoord is “Ja!”
Onderwysers stem saam dat die grootste verskil gemaak word deur ’n onderwyser wat:
– werklik in u kind belê is en hul liefde vir musiek wil deel;
– u kind help om hul eie musiek te skep;
– musiek leer wat relevant is vir hulle en hulle blootstel aan ‘n groot veld van genres en of style;
– hulle leer hoe musiek werk en hoe om saam met ander te speel;
– en eksamens en kompetisies gebruik om sodoende vir u kind erkenning te gee vir die tyd en werk wat u kind deur die jaar in sit in sy/haar musiek.
Glo my as ek se dat daar niks lekkerder is vir enige kind as hy/sy haar sertifikaat kry na die eksamens en daarmee spog by ander nie. Daardie uitdrukking op hulle gesigte is goud werd vir enige ouer.
Die Musiek-Akademie SA stel gedurende 2026 die nuwe sillabus bekend waar leerlinge gaan leer om saam met agtergrond klankbane te speel. Hierdie klankbane is in verskeie style en is spesiaal so saamgestel dat leerlinge tog nog steeds ook kreatief kan wees.
Musiek onderwysers sal ook spesiale opleiding ontvang vir die gebruik van die klankbane tydens onderrig en sodoende kan u verseker wees dat u kind die beste musiek onderrig ook ontvang.
Laat ons verseker dat die volgende generasie leerlinge voortgaan om musiek te skep – en hul instrument vir die res van hul lewens lief te hê.
Musikale Groete vanaf
Dewald Petzer
Die Registrateur
